Search   
Secure Payments Comodo Secured


The best Bass Lures, bass fishing lures and Bass Bait for sale in South Africa.

A good selection of bass fishing baits, lures, tackle, in-line spinners, swim baits, rods, equipment and plastic baits for every bass angler at our online Bass shop.

Kunsaas Vir Swart Baars Hengel

'n Goeie seleksie swart baars hengel aas, gerei, kuns aas, stokke en spinners vir die swart baars hengelaar.

 


 

 

 

Kunsaas Hengel vir Swartbaars

Deur Henry de Beer

 

Habitat

 

Grootbek-swartbaars leef in skoon damme en stadig vloeiende riviere. Waar die Kleinbek-swartbaars redelike koel water, en dus riviere verkies, hou die Grootbek-swartbaars van warmer water en floreer hy in enige grootte dam, veral as daar baie, en digte, skuiling is.
Hulle hou van boomstompe en ‘n digte lap klein boompies wat in die water staan, murasies van opstalle, van brûe en los sementblokke en dieper plekke in die bodem van damme soos ou paaie, vore, gate of holtes en ou rivierbeddings.
Steil regaf walle aan die oewer is uitstekende skuiling; vis lê veral teen sulke walle as hulle uitgekalwe is of wanneer die son só staan dat hulle ‘n skadustrook in die water vorm; ook wanneer gras of bome ‘n dakkie oor die waterkant vorm.
Hulle hou ook van lappe watergras of ander waterplante in die water, biesies, palmiet, riete en ander groeisels aan die waterkant en opdrifsels wat teen en tussen hierdie groeisels aan die kant lê en ‘n sort dak vorm.

 

Kleinbek-swartbaars benodig kouer en helderder water as die Grootbek-Swartbaars en daarom word hul hoofsaaklik in vloeiende riviere oor los, klipagtige bodems aangetref.
Hulle word by poele se inlope gekry of by groot klippe/rotse waar draaikolke geneig is om te vorm; natuurlike voedsel wat stroomaf spoel word hier byeengebring.
Hulle skuil ook aan die stroom af kant van klippe sodat hul nie gedurig teen die stroom hoef te stoei nie én om te lê en wag vir ‘n larwe of ander stukkie kos wat stroom af spoel.
As daar nie skuilplek is nie, lê hulle net buite die sterk stroom terwyl hulle stroom op kyk.
Kleinbek-swartbaars hou van diep water en sal ook gevind word by harde, sanderige of klipperige bodems, in dongas, gate, óf die skadu kant van boomstompe en rotse óf tussen boom wortels óf by ‘n stroom versnelling se beginpunt.

 

Beide spesies is 'n roofvis en vreet viseiers, insekte, veldmuise, akkedisse, paddas, krappe, wurms en kleiner vissies.

‘n Vraag waaroor al baie debat gevoer is , is gryp swartbaars kunsaas oor hul honger is óf is dit oor hul instinktief enige vyand/indringer in hul bly area wil illumineer. Ek dink swartbaars wil hul bly area  instinktief beskerm en sal dus outomaties enige indringer aanval al is hulle nie honger nie, en selfs nog meer so gedurende die broei seisoen.

 

Kunsaas Hengel

 

Grootbek-swartbaars se ideale temperatuur is 22°C (66°F) en die kleinbek s’n 19,5°C (67°F).
As die temperatuur 2°C hoër of laër is word swartbaars onaktiewer en traer om te byt behalwe in die lente wanneer hulle vlak water toe kom as die watertemperatuur daar gereeld 16°C (61°F) word. Dan sal hulle, om hulle neste te beskerm, of bloot uit aggresie gedurende die broeityd, byna enige kunsaas gryp, veral swaailemme en kunsvissies. As die wateroppervlak glad is, werk knalproppe en ander bo-lopers soms ook goed in die lente.

 

Oppervlak kunsaas (bo-lopers) bestaan uit ‘n reeks kunsase wat doelgemaak is met waggel/skommel aksies, van hulle moet kan plof en/of knal geluide maak en ander moet trillings veroorsaak. Met die inbring moet hulle spartel aksies naboots en/of borrellende/bruisende geluide maak. Daar word dus gepoog om natuurlike aas soos veldmuise, akkedisse, paddas, motte en klein beseerde vissies na te boots. ‘n Tipiese bo-loper het ‘n soliede liggaam bestaande uit hout of plastiek met een tot drie drie-angel hoeke en dit het normaalweg ‘n ronde metaal ogie aan die voorkant waaraan die vislyn vasgemaak word.

 

Waggel/skommel kunsase kry hul unieke aksie van ‘n skottel-tipe lippie aan die voorkant van die kunsaas.
Knalproppe (poppers) kry hul plof/knal geluide van ‘n geboogde tipe gesiggie.
Borrel/bruis ase kry hul aksie wanneer die hengelaar die aas manipuleer met onderandere die manier en/of spoed waarop dit ingebring word asook van een of meer swaailemme wat aan die liggaam geheg is. Dit draai wanneer die aas ingebring word en veroorsaak ‘n borrel/bruis geluid soortgelyk as die gonsende, zoem geluid, wat ‘n insek se wapperende vlerke veroorsaak.

 

Wanneer groot vis oppervlak kunsase gryp is dit gewoonlik met ‘n onverwagse skouspelagtige manier wat veroorsaak dat die water letterlik, en met ‘n groot lawaai, in die lug in spat/ontplof. Dis verseker een van die heel opwindendse hengel metodes vir swartbaars.

 

‘n Plastiese wurm is ‘n sagte plastiese kunsaas wat gebruik word om erdwurms na te boots. Hul is beskikbaar in ‘n wye verskeidenheid vorms, kleure en groottes om verskillende spesie vis te teiken, vanaf swartbaars tot karp en bloukurper. Hul is ook beskikbaar met of sonder krulsterte en sommige word selfs gegeur om soos lewendige aas, soos onder andere erdwurms, te ruik.
Jy kan hul hengel vanaf die oppervlakte tot op die bodem, met ‘n dood-stadige tot ‘n vinnige inbring spoed, net soos jy lus het; daar is basies nie ‘n verkeerde manier om met hulle te hengel nie; maar na baie eksperimente blyk die dood-stadige inbring van plastiek wurms op die bodem normaalweg die suksesvolste vir die vangs van swartbaars te wees.

 

Swaailemme (spinners) is in verskillende kleure, groottes en aksiepatrone beskikbaar. Hul is een van die beter tipe kunsase omdat hulle daardie trillings ingebou het wat so tipies van klein vlugtende vissies en waterinsekte is.
Jy kan hul maklik met vier- tot sespondbreekkrag lyn uit skiet (gooi).
Om die diepte te beheer is net so maklik; As jy wil hê hul moet dieper loop, moet jy, nadat die swaailem die water getref het, ‘n rukkie wag en dan stadig begin inkatrol. As jy vlakker wil vang moet jy gouer begin inkatrol en die swaailem vinniger inbring.
Swaailemme is ideaal vir swartbaars sowel as die verskillende kurper spesies, veral vir Bloukurpers.
Alle hengelaars, insluitend kinders, kan swaailemme baie maklik gebruik sonder enige ervaring. Probeer dit gerus – hengel met swaailemme is groot pret en in die meeste gevalle byt die vis hulself vas....

Vir meer inligting oor swaailemme kliek hier!

 

Swartbaars volg kunsaas eers vir ‘n kort entjie voor hul dit gryp. Hulle sal ook nie sommer die kunsaas van agter af gryp nie; hulle swem baie vinnig tot langs die kunsaas en gryp dit van die kant af óf hulle swem verby die kunsaas en gryp dit dan tromp-op.

 

Skuiling

 

Swartbaars is gevoelig vir helder sonlig, Daarom word hulle vroeg soggens en laat middag, wanneer die lig nie so skerp is nie, in die vlak water, naby die kant gevang. Sodra die lig skerper word, soek hulle dieper water op waar die lig dowwer of draagliker  is óf hulle soek ander skuilplekke soos watergras en die skaduweekante van klippe, stompe, klipbanke en holtes op.
Dus, hengel bedags as die son helder skyn in diep water en moet veral nie die genoemde skaduplekke oorslaan nie.
In die middelsomer is snags ‘n baie goeie hengeltyd vir swartbaars.

 

‘n Uitsondering op die reël is vóór die broeitydperk wanneer helder, sonnige weer visse laat byt, veral in die vlak water en sloepe waar visse in die vroeë lente warmte kom opsoek. Die beste hengeltyd is rondom 12h00, dit wil sê op die warmste van die dag. Koue wind, reën en bewolkte weer laat visse ophou met byt.

 

Ná die broeityd: Helder sonskynweer laat visse diep water en skuiling opsoek – plekke waar die gemiddelde hengelaar sukkel om hulle te vang. Die beste hengeltyd is vroeg soggens en later in die middag (selfs in die aand en nag) wanneer dit koeler is. Koelerige wind en betrokke lug maak dat visse lus voel vir kos en laat hulle vlak water toe kom waar hengelaars hulle makliker vang. Vyf uur ná ‘n verfrissende reënbui is dan gewoonlik die beste hengeltyd.

 

‘n Hoë of stygende barometerlesing is altyd ‘n gunstige faktor om vis te laat byt (omdat die water dan meer suurstof opneem en dit die visse bygevolg meer aktief maak), veral as dit gepaardgaan met ‘n effense daling in die lug- en watertemperatuur, byvoorbeeld deur bewolkte weer, reën en ‘n verfrissende windjie - wanneer wind oor die wateroppervlak waai en golfies maak, los daar lekker baie suurstof in die water op.

 

Swartbaars gebruik nie net skuiling teen sonlig nie, hul gebruik skuiling ook as aanvalsbasis. As jy ‘n lap watergras op die water sien is die kans uitstekend dat swartbaars daaronder skuil. Die watergras vorm gewoonlik ‘n digte dak terwyl die bodem daaronder taamlik skoon sal wees. As ‘n mens nou ‘n knalprop (popper) so ‘n halwe meter van die watergras se kant laat val sal ‘n swartbaars dikwels uitskiet en dit gryp. Partykeer sal dit nodig wees om die knalprop eers ‘n bietjie ‘laat praat’ deur dit te roer of te pluk.

 

Die suurgehalte van water (pH-faktor)

 

Die suurgehalte van water (pH-faktor) het ook ‘n uitwerking op vis vangs.  Swartbaars verkies water waar die pH-lesing tussen 7,5 en 7,9 is. As die pH lesing laer as 7,5 daal, óf hoer as 7,9 styg gee die swartbaars onmiddellik pad. Maar omdat alle water nie altyd so ‘n gunstige pH-gebied het nie, is daar gevind dat as ‘n dam byvoorbeeld aan die een kant ‘n lesing van 8,9 het en aan die ander kant ‘n lesing van 8,2, die vis dan sonder uitsondering in die 8,2-gebied sal wees omdat dit nader aan die gunstige pH-gebied  van 7,5 tot 7,9 lê.

Swaar reën en ook plantaardige material wat in die water ontbind, verhoog die koolsuurgasinhoud van die water en verlaag die pH-lesing. Daarom moet ‘n mens eers vier na vyf uur na ‘n storm gaan visvang.

Aan die anderkant laat onderwaterse plantegroei en helder sonskyn in dié gebied die fotosintese toeneem; dit laat op sy beurt die suurstofinhoud én die pH-lesing styg wat baie gunstige faktore vir die bymekaarkom en byt van visse is. Ook invloeiende water kan die pH-lesing laat verander afhangende daarvan wat die water invoer – suur of alkalië. 

Prof Ben Engelbrecht het jare gelede in ‘n sekere gruisgat swartbaars na die kant toe gelok deur so nou en dan ‘n paar handevol kunsmis met ‘n hoë alkalie-gehalte daar in te gooi. Dit het ook vir hom in groter damme gewerk.

 

Die ‘sien’ van kunsaas

 

Dit is deur die gesamentlike ervaring van tallose hengelaars deur die eeue seker miljoene kere bewys dat hengelvisse die vorm, grootte en kleur (en selfs die kleurskakering)  van voorwerpe soos kunsase kan waarneem en daarop sal reageer. En nou maak dit nie saak nie of visse byvoorbeeld kleur anders as ‘n mens sien en beleef nie. Wat wel saak maak, is dat hulle dit wel op hulle manier sien en dan op hulle manier daarop reageer.

Deur ondervinding weet ons dat die nabootsing noukeuriger moet wees namate die water helderder is en ook wanneer die inbringspoed van die kunsaas stadig is soos in die geval van larwes wat baie stadig in die water beweeg.  Dan kry die vis geleentheid om die kunsaas mooi te bekyk.

Dit het verder ook geblyk dat grootte dikwels belangriker is as vorm en vorm weer belangriker as kleur. Veral by drywende kunsase wat ‘n silhoeët teen die lug vorm, is kleur van minder belang.

Dit is verder duidelik dat wanneer ‘n kunsaas vinnig ingebring word of wanneer die water troebel is of wanneer in die nag gevang word, die presiese vorm, kleur en grootte van die kunsaas in belangrikheid afneem.

Van die beste kleure vir plastiek wurms is verskillende variasies van swart, pers, blou , geel en groen; in Engels praat ons van onderandere “Black/Blue, Black/Neon, Junebug, Pumpkin, Green Pumpkin en Watermelon.”

 

Aanvoeling van Trillings

 

Vis kan deur hulle aanvoeling van trillings (én beweging van voorwerpe deur die water) kos en vyande opspoor.

Hoewel visse nie uitwendige ore het nie, het hulle normaalweg goedontwikkelde hoor-organe wat agter elke oor geleë is. Net soos by die mens hoor visse nie alleen met hulle ore nie, maar dien die binne-oor ook om hulle ewewig te bepaal.

Bo en behalwe die binne-ore besit hengelvisse nog ‘n sylyn wat by ons varswaterhengelvisse nogal taamlik sigbaar is as ‘n donkerder streep op die sy. Die skubbe daar het klein gaatjies in, en onder hierdie skubbe is daar gevoelige senuweepunte. Visse gebruik hierdie sylyn, wat baie gevoelig vir drukveranderings is, om die rigting en sterkte van die stroom te bepaal, om die nabyheid van obstruksies agter te kom en veral om sekere trilling swat óf deur ‘vyande’ óf deur smaaklike vissies, waterdiertjies of insekte in die water veroorsaak word, op te spoor.

Met hierdie sylyn kan visse waterverplasing opspoor, wat byvoorbeeld deur kunsase wat nie vibreer of skommel nie, veroorsaak word.

Vis is baie sku/sensitief vir geraas, selfs hard praat skrik vis af.  Maak so min as moontlik geraas van die kant af of op ‘n boot. As ‘n mens in die water met kunsaas moet staan en gooi, beweeg so min en so onopvallend as moontlik. Beweeg liewer op die wal van een plek na ‘n ander; as ‘n mens deur die vlak water loop, skrik jy visse af.

Wat die opsporing en vreet van kos deur die aanvoeling van waterverplasing en trillings betref; swartbaars sal ‘n klein kunsaas (soos ‘n loodkop) wat stadig water verplaas (by voorkeur sagkens op en af beweeg) gryp, maar wil gewoonlik iets hê wat effens vinniger en soms baie vinniger water verplaas. As die kunsaas egter draai, skommel of wikkel (soos swaailemme, lepels en kunsvissies), kan ‘n mens hulle effens stadiger laat beweeg. Vir swartbaars moet ‘n mens maar vir verskillende plekke en tye eksperimenteer en enige inbringsnelheid vanaf baie stadig tot baie vinnig probeer.

Na baie eksperimente blyk die dood-stadige inbring van plastiek wurms op die bodem normaalweg die suksesvolste vir die vangs van swartbaars te wees.

As daar met bo-lopers gevang word, is die beste procedure om met ‘n doodstadige inbring te begin. Wag eers totdat die golfies wat deur die val van die kunsaas veroorsaak is, bedaar. Laat die kunsaas dan effens beweeg en wag dan vir 10 sekondes tot selfs één minuut voordat jy ‘n plukkie of pluk gee. Meestal sal die swartbaars die kunsaas vat as dit doodstil lê! As dié procedure nie help nie, kan die inbringspoed geleidelik vermeerder word. Partymaal vat swartbaars ‘n bo-loper eers wanneer dit op die wateroppervlak reisies hardloop en soms strale water na weerskante toe laat spuit.

Swartbaars wil dikwels nie kunsase vat wanneer hulle beweeg en bygevolg water verplaas of vibreer nie, maar dat hulle dit vat wanneer dit met ‘n plons op die water geval het. Swartbaars hou van die ‘sagter’ plonse van die plastiekwurm en ligte knalproppe (poppers), en hul vat veral net na die neerplons.

 

 

 

Skrywer Besonderhede:

Henry de Beer skryf hengel en kampeer artikels vir papier tydskrifte sowel as web tuistes soos Henkor.
Vind hom op en Twitter.