SEARCH Henkor Articles
 


Aasboot Hengel vir Groot Karp

Deel 1
Deur Henry de Beer

Talle hengelaars wat nie ‘n boot in enige vorm gebruik nie beskou alle bote as ‘n vorm van kullery omdat ‘n boot relatief maklik is om te gebruik en jou toelaat om groot vis te vang sonder enige gooi tegniek.

Daar is sekerlik aasboot gebruikers wat nie goed kol kan gooi oor langer afstande nie, maar inderdaad is dit ook so dat baie aasboot gebruikers uitstekend kan gooi.

Die grootste voordeel met ‘n aasboot is dat jy op afstande kan hengel waar jy normaalweg nie kan gooi nie. Met die algemene geraas teen die oewer beweeg die meeste groot vis na dieper water of word hulle in baie gevalle teen die oorkantste ‘stil’ oewer gevind. Dus is ‘n roeiboot of aasboot noodsaaklik as jy die vis wil teiken.

Hoewel dit nie ontken kan word dat as jy eers weet hoe om ‘n aasboot te gebruik die plasing van jou aas drasties vergemaklik word, jy nogtans ‘n element van vaardigheid benodig om die aasboot suksesvol te gebruik. Die manier waarop jy die voerbak(ke) op die boot laai, die manier waarop jy die aas insit en die tipe lood wat jy gebruik staan alles in verhouding met jou eind resultate.

Aasboot hengel is baie meer tegnies as wat baie hengelaars dink. Dus as jy in ‘n posisie sit waar jy nie kan besluit of jy ‘n aasboot wil of nie wil gebruik nie, sal ek oor die volgende twee uitgawes al die  moontlikke voor en nadele probeer dek.
Ek gaan ook ‘n paar Top Tips gee oor hoe om die beste uit ‘n aasboot te kry en vir julle vertel waarna om uit te kyk as jy een wil koop. Miskien, met ‘n bietjie geluk, sal jy oortuig word om een te gaan koop, miskien nie, maar vir nou, kom ons vind meer uit…

Inleiding tot die Aasboot:

Behalwe vir ver afstande, gee die aasboot jou ook die vermoë om jou hoekaas en baie grondvoer in een eenvoudige aksie uit te gooi. Die nodigheid om die teiken area tot skuim te gooi met ‘n hengel stok, soos jy probeer voer, verdwyn. Daar is ook geen ‘rebait’ probleme van enige aard (soos jy kan kry nadat jy per ongeluk die aas hangend gelaat het in ‘n boom met die gooislag); dit gebeur net nie as jy weet wat jy doen nie. Vir die teorie dat aasbote net een vorm van voorlegging bied, wel, dit laat die gebruikers van aasbote net aan die lag.
Met vandag se aasbote kan jy ‘n piep-klein PVA stick of 4kg voer uitsit, die voer heeltemal versprei oor ‘n area, ‘n kol hengel of net soos jy lus het. Die meeste ingevoerde bote bied jou selfs die vermoë om individiueel die aas vry te laat!

Die afstand waaroor jy jou aasboot kan gebruik sal afhang van watter tipe boot jy koop. Die nuutste modelle kan tot 500m en verder opereer. Oor daardie afstande sukkel jy egter om die bote raak te sien en hul hantering raak moeilik. Mens onderskei moeilik tussen die voor en agter kant. My eerste stukkie advies is dat jy realisties moet wees oor die afstand wat jy wil hengel. Skaf dus gerus ‘n verkyker aan sou jy oor daardie afstande wil hengel.

Remote

Die meeste aasbote het ‘n vorentoe en agtertoe kontrole op een afstandbeheerder en ‘n links en regs opsie op ‘n ander kontrole. Gewoonlik is daar ook aparte kontroles op die afstandbeheerder wat die verskillende liggies op die aasboot aan en afsit en om die voerbak(ke) oop te maak. Jy sal verskillende opsies op verskillende handels merke vind.

Boat out of bag

Watter boot om te gebruik?

Daar is verskeie aasbote op die mark. Watter handelsmerk jy koop sal afhang van jou eie keuse t.o.v afwerking, persoonlikke smaak en hoeveel jy bereid is om te spandeer. Ek gaan vir julle ‘n paar wenke gee oor watter kenmerke om voor te kyk as julle ‘n aasboot gaan koop wat vir jou die beste waarde vir geld behoort te verskaf.

Die eerste item wat baie belangrik is vir jou aasboot is ‘n onkruid skerm aan die onderkant van die boot. Sommige aasbote werk met pompe en ander met propellers (skroewe).
In beide gevalle het jy een of ander tipe skerm nodig om jou boot in die somer, wanneer onkruid en water gras hoog lê, te beskerm. Drywende gemors soos sekere mono’s skep ook probleme. Aasbote werk met koellaers, wat sal oppak en breek, sou daar gemors oor die propeller ‘shaft’ opdraai met gebruik. In engels praat ons van ‘bearings that seize’.
Hierdie beskermers verhoed ook dat bewegende dele beskadig word wanneer die boot in vlak water vaar.
Die hoeveelheid grondvoer wat die boot met gemak kan hanteer behoort ‘n groot rol te speel in die koop van jou boot. Hoe minder grondvoer die boot met een slag kan hanteer, hoe meer battery krag sal verlore gaan deur die boot heen en weer te moet stuur om voldoende hoeveelhede grondvoer uit te kry. Hoe groter die boot, hoe groter is die kanse dat die voer houers meer voer op een slag sal kan dra. ‘n Boot wat tenminste 2kg voer kan dra is ideaal. Moet nie te veel jou bekommer oor die hoeveelheid voerbakke waaroor die boot beskik nie; in sekere gevalle kan een voerbak die hoeveelheid gewig bevat wat twee kan dra. Die grootste voordeel wat twee interne voerbakke jou gee bo slegs een is dat dit jou die geleentheid sal bied om jou aas aan die kante van jou hoekaas uit te gooi en nie bo-op nie.
Voerbakke is of agter die boot gemonteer of intern (binne-in) die boot oor die lengte. Interne voerbakke kan oor die algemeen meer voer hanteer as eersgenoemdes. Interne voerbakke het deesdae ook onafhanklike strop houers met ‘n hoek vrylaat meganisme wat beteken dat jy die voer in die voerbakke onafhanklik van die hoeke kan vrylaat. Dus kan jy eers jou strop vrylaat en dan jou voer bo-oor jou strop, of vice versa.

Die gewig van die boot is vir twee redes belangrik. Die eerste natuurlik oor die afstand wat jy die boot moet dra van jou voertuig na die water. As jy oor ‘n lang afstand moet loop sal die boot die hoeveelheid gerei en voer wat jy kan saamdra beperk weens sy gewig. Die tweede rede is dat swaarder bote meer stabiel in die water sit as die ligter bote wat hulle dus meer geskik maak in winderige kondisies en in rowwe water.

Boat in bag

Aasboot bybehore

Een van die dinge wat die koop van ‘n boot drasties vergemaklik is wanneer jy ‘n boot koop wat alles klaar ingesluit het in die aankoop prys; eerder as een wat jy later ditjies en datjies voor moet aankoop.
As jy ‘n standaard boot koop sal jy gewoonlik die boot, afstandsbeheerder, battery herlaaiers en
batterye kry. Die boot behoort ook LED (lae energie, hoë intensiteit) liggies voor, agter en op die
kante te hê wat verskil van mekaar. Jy wil immers snags kan sien watter kant is watter kant.
Selfs bedags, in ongure weer is LED’s van onskatbare waarde.

Daar is baie ander ekstras wat jy vir jou boot kan koop, afhangende van hoeveel jy wil spandeer.

TIP

Skaf gerus vir jou ‘n dra sak aan vir die boot sowel as die afstand beheerder. Dit bied broodnodige beskerming teen stampe en stote en veral as jy per ongeluk een van hulle laat val.

TIP

Hoe groter die afstande wat jy hengel hoe meer battery krag gebruik jy. Spaar batterye is dus uiters noodsaaklik. Wie wil nou sy hengel sessie kort knip as gevolg van pap batterye. Vir naweek en langer sessies kan jy dit ook gerus oorweeg om ‘n solar paneel aan te skaf. ‘n Solar paneel herlaai batterye met behulp van die son en is ‘n groot hulp wanneer daar nie elektrisiteit in die nabye omgewing is nie.
Oorweeg gerus ook ‘n ‘remote echo’ sounder. Daar is verskillende soorte, wat varieer vanaf jou standaard depth finder tot jou grafiese modelle. Die standaard ‘depth finder’ meet dieptes tot so 50m en het ‘n omvang van sowat 200m. Hulle is geskik vir die meeste hengel omstandighede. Daar is egter niks beter om te gebruik as die grafiese ‘echo sounder’ nie. Hierdie sounder gee jou ‘n visiuele prentjie van wat onder die boot aan die gang is eerder as net ‘n diepte lesing. Nie net word vis aangedui nie maar jy kry ook ‘n goeie idee van hoe die bodem lyk.

TOP TIP

Maak seker die boot vervaardiger verskaf sertifiserings dat ander seine nie met die van die boot sal inmeng nie. Die laaste ding wat jy wil hê is dat ‘n ander hengelaar se afstand kontrole (insluitend die vir motors) beheer van jou boot oorvat.

In die volgende twee artikels kyk ons na die aanwending van die aasboot om groot vis te vang, uitneem van meer as een lyn, die korrekte gebruik van taai saad mengsels, die rol van PVA, watter lood (sinker) vorms werk die beste sowel as TOP TIPS op al die ‘moets’ en ‘moenies’.


About the Author:

Henry de Beer is at present a full time writer for the Henkor Website.
You can find him on and Twitter.



 


©Copyrighted 2010 - 2013 Henkor. All rights reserved.

Website designed by Hendry de Beer.